Saturday, April 2, 2011

Dit kon soveel erger gewees het

Elke vrydagaand in ons huis, is hamburger-aand.  En elke verskoning wat ek kan kry om die braai te benut, is 'n goeie verskoning.  So, ons koop nie karton boksie hamburgers by Checkers nie.  Ons koop ons patties by Fruit & Veg.. die chargrill patties.  En dan word die patties ge-chargrill op die braai, want daar is darem maar niks lekkerder as 'n kuiertjie om die vuur nie.  Veral in ons lapa.

Vandat ons hier ingetrek het, het ons nog nooit mense in ons huis onthaal nie.  Hulle stap by die voordeur in, deur die eetkamer en die sitkamer, uit by die skuifdeur in die lapa in.  En daar sit ons en kuier tot die mense weer moet ry.  Die kos en die drank en die glase -  alles word uitgedra.  Die yskas in die lapa is altyd tjok en blok met koeldrank en drankies.  Die enigste ander tyd wat iemand in die huis kom, is as daar gepiepie moet word.  Tot gisteraand...

Ek het die vuur vroeg aan die gang gekry, want daar is niks so sleg as mens eers 10uur op 'n vrydagaand eet nie.  As die mense kom, gaan ek die patties op die vuur sit, dan gaan ons hamburgers (frikkadelbroodjies) bou en lekker kuier in die lapa tot ons omkap van moegheid.  Die vuur het nog so 20 minute gehad om te gaan voor die hamburgers moes op, toe die mense opdaag.  Deur die eetkamer, deur die sitkamer, uit by die skuifdeur lapa toe.  En daar nuttig ons toe ons eerste drankie.  Net toe ek begin dink die conversation kort 'n hupstootjie, sien ek Riaan se oë so groot soos pierings flits in die rigting van die braai, "O, hel!  Het jy 'n brandblusser?!".
Hy was nog in die helfte van sy sin, toe het die blusser.  'n Klomp goed flits deur my gedagtes.  Wanneer laas is die ding gediens?  Werk hy ooit?  Hoe werk hy?  Ek het nie gebly om uit te vind nie.  Terwyl Riaan en Jako met die rooi stuk blik begin karring, het ek en El gehardloop vir die tuinslang.  Vir wat is daar nie 'n kraan aan die agterkant van die huis nie?!  Eers maak ek 'n emmer vol water, maar ek besef vinnig die storie gaan nie werk nie.  Toe ek met die tuinslang uitkom, is almal in die lapa spierwit.  Obviously het hulle die brandblusser aan die werk gekry.

Daar hang 'n verstikkende wit wolk in die lapa.  En ek spuit met die tuinslang als nat wat lyk of dit kan brand.  Nodeloos om te sê, dit was 'n groot gemors toe ek vanoggend weer gaan kyk na die spulletjie.  Binne sekondes het die vuur teen die dak opgeloop (aan die binnekant) tot amper in die nok.  Binne sekondes het ons die vuur geblus gekry.



Maar dit kon soveel erger gewees het.

Vandat ons hier ingetrek het, is Ellené paranoies oor die braai in die lapa.  Haar paranoia het my nou aangesteek (pardon the pun).

Ten minste het die petalje gesorg vir 'n bietjie opwinding vir wat andersins 'n baie droeë, unhappening aandjie kon wees.  Patties in die oond, glasies weer volgemaak, kuier ons toe die res van die aand in die huis.  Ek dink ons gaan vir die volgende ruk 'n paar kuiertjies in die huis hou.  Ek is nog lank nie genees van ons weeklikse intelling van hamburger-aand nie, maar daai chargrill patties is toe nie so bad in die oond gegrill nie.

Ek het min geslaap gisteraand.  Dit kon soveel erger gewees het!



No comments:

Post a Comment