Wednesday, August 3, 2011

'n Nuwe Song

Ek bid op die vreemdste plekke.  God het my tog gemaak, so daar is niks wat ek vir Hom kan wegsteek nie.  Hy weet wat ek doen en wanneer ek dit doen, so waar ek sit, staan of lê, daar kan ek mos maar netsowel met Hom 'n geselsie aanknoop.

So staan ek in die stort nou die oggend en die song klim in my hart.  Ek dink toe ek moet hom neerskryf anders gaan hy verlore, maar uit die stort, in die kar, by die werk en klaar vergeet.  Vanoggend ry ek werk toe en wragtag! hier kom die song terug.  Obviously het Iemand anders nie vergeet van hom nie.  So, ek neem hom toe sommer met my voice recorder op.  Nou gaan ek hom nie sommer verloor nie.  En as ek hom nou met jou deel, begin hy al klaar sy werk doen.

Jesus, in the morning
in the evening
I call Your name
and You hear me
and You lead me
in the truth of Your ways
Help me know what You need
Help me understand
Help me see what You see
in this broken land

Eenvoudig tog veelseggend genoeg dat dit nie nodig is om te verduidelik nie, maar ek wil tog 'n ou ietsie daaroor sê.

"Jesus, in the morning, in the evening"
Natuurlik moet 'n ou tussen die lyne lees, want tussen oggend en aand is daar 'n hele dag, en tussen aand en oggend is daar 'n hele nag, en dit moet 'n mens insluit in hierdie klein sinnetjie.

"I call Your name"
As ek sê "ek roep U naam", dan praat ek van die alledaagse klein goedjies van die lewe.  Die onbewustelike keuses wat ek maak deur die dag: Hoe moet ek antwoord op die vraag?  Moet ek hierdie taak aanpak?  Hoe moet ek hierdie ou hanteer?  Hoe moet ek hierdie ding sê?
Dit moet onbewustelik deel wees van ons alledaagse en ek voel as jy God een keer kans gegee het om hierdie besluite saam met jou te maak, dan begin Hy sy opinie gee sonder dat jy vra (dan raak dit onbewustelik).

"and You hear me"
Ek voel dit is so nodig dat ons onsself gereeld herinner daaraan dat God ons hoor.  Hy druk nooit sy vingers en sy ore en sing irriterende deuntjies soos 'n stout kind as ons ons monde oopmaak nie.  Hy luister altyd.

"and You lead me in the truth of Your ways"
As ek dit in afrikaans sê, klink dit baie swaar "en U lei my in die waarheid van U weë".  Wat ek eintlik bedoel met hierdie reëltjie, is dat God my help om "real" te wees - opreg en eerlik.

"Help me know what You need"
God het eintlik niks nodig nie.  Hy is immers God.  Maar daar is sekere goed wat God nodig het, ek moet doen.  Ek moet deurentyd vir myself vra of dit wat ek doen God se koninkryk opbou of afbreek.  Wat het ek nodig om te doen of te sê of te gee wat hierdie taak gaan moontlik maak.

"Help me undestand"
In die woorde van 'n ou digter "Ons ken nou maar gedeeltelik, dit wat ons weet en verstaan, weet en verstaan ons slegs gedeeltelik.  Eendag sal ons ten volle verstaan".  So, as ek praat van verstaan, praat ek nie van hierdie groot verstaan nie (ek voel ons moet aanvaar dat daar sekere goed is wat ons nooit sal verstaan nie).  Ek praat van verstaan hoekom ek doen wat ek doen.  Ek praat van die klein goedjies, die alledaagse goedjies.  Ek wil verstaan dat dit wat ek doen die koninkryk opbou/afbreek.  Eenvoudig.

"Help me see what You see"
Ek lees nou die dag in 1 Samuel (toe God vir Samuel stuur om vir Dawid te gaan salf) dat God vir Samuel gesê het "Ek kyk anders na mense.  Mense kyk na mense se uiterlike - of hulle sterk en groot en mooi is.  Ek kyk na hulle harte."
So as ek vra dat ek wil sien wat God sien, dan wil ek eintlik net probeer om mense se uiterlike mis te kyk.  Ek wil hulle harte sien.
"in this broken land"
Dit kan netsowel wees "in this Holy land", want as 'n MENS kyk na die Israeliete en hulle tog deur die woestyn, dan sien 'n mens 'n stukkende nasie, maar tog het God hulle afgesonder as 'n heilige nasie.
So, dalk vra ek eintlik dat God my help om in hierdie stukkende wêreld van ons die heilig raak te sien en die hart van die mensdom raak te sien.

Min woorde, die song van my, maar 'n diep diep betekenis.  Ek dink dit gaan my gebed wees vir nog baie jare.

Deel gerus ook wat die woorde vir jou kon beteken.  Ons elkeen verstaan mos maar anders.