Monday, May 23, 2011

Nagmaal: Eenvoudig & Alledaags

Toe Jesus destyds die nagmaal ingestel het, het hy brood gebreek en wyn geskink. Hoekom? Want dit was 'n alledaagse, eenvoudige maaltyd. Iets wat die mense van daai tyd gereeld geniet het. Hy het nie spesiaal laat brood bak en wyn pers vir die ongelooflike spesiale geleentheid nie. Hy het tien teen een aan tafel gesit, soos soveel male van tevore, en gedink "Hm... hier is mos nou 'n mooi teken. Kom ons gebruik dit om mense te herinner aan my Vader se genade, en my ultimate sacrifice".

Sy idee was dat ons aan Hom dink elke keer as ons brood breek / eet, en elke keer as ons wyn skink / drink. Hy wil hê in ons alledaagse, in die eenvoudigste oomblikke, dat ons steeds bewus is van Hom, dat ons onthou wat Hy aan die kruis vir ons kom doen het. Dit hoef nie 'n hoogsheilige oomblik te wees nie. Ons hoef nie, elke keer as ons 'n glas wyn drink, op ons knieë neer te val in aanbidding nie. Dit (volgens my verstaan) is nie wat Jesus in gedagte gehad het nie.



Kom ek probeer dit nog beter verduidelik. Toe ek op skool was, het ek en my ma gereeld gestop oppad huis toe van die skool af, om 'n vars brood te koop by die kafee 'n blok van die kerk af.. As ons by die huis kom, was ons gunsteling middagete 'n stukkie vars brood met Avokadopeer op. Tot vandag toe nog (en ek is seker dit sal my lewe lank by my bly), as ek avokadopeer eet, dan dink ek terug aan daai lekker eenvoudige middagetes saam met my ma.

Dit gebeur mos so met ons... met smake en reuke veral. Ek dink dit is wat Jesus se idee was met die Nagmaal. Dat ons brood en wyn ('n alledaagse maaltyd) se reuke en smake sal assosiëer met Hom en dit wat Hy vir ons kom doen het. Dat ons bloot sal onthou, elke keer as ons saam met vriende sit en kuier om 'n glas wyn, elke keer as ons 'n lekker stukkie brood geniet, wie Hy is, hoe lief Hy ons het, en dat Hy nogsteeds teenwoordig is... in ons huise, aan ons tafels, tussen vriende.

1 comment:

  1. Sjoe, nou maak jy sommer lus vir so lekker avo broodjie!

    ReplyDelete