Thursday, June 23, 2011

Bid... droom... skryf...

Ek het 'n song opgeneem en 'n Facebook Page opgestel vir my musieklikheid.  Ek het gevoel dis tyd.  Dis tyd dat ek iets anders doen met my talent as om om mooi liedjies in die kerk te sing.  Natuurlik is daar niks fout daarmee nie, maar hierdie droom/gedagte brand al diep in my hart vir jare lank.  So, ek gaan dit doen.  Ek gaan my hart laat hoor deur meer as net die 4000 mense in my gemeente.  Sjoe!  Dit klink baie idealisties...  kom ek vertel eers waaroor die song gaan, en dan babbel ek verder oor my toekoms met my musiek.

Titel: Ek wonder hoekom
Die vraag: Hoekom het God die aarde so mooi gemaak - die bome, berge, lig en donker, riviere, see en strand - en met Sy almal en genade aangeraak, en Sy seën daaroor uitgestort?  En hoekom dan die mens gemaak, as ons als besoedel en opblaas soos dit ons pas?  As God dan alwetend is, en kon sien wat ons met Sy 'masterpiece' gaan aanvang - hoe ons gate in Sy berge sou skiet met dinamiet om ons droom huisies te bou; hoe ons gif sou uitstort oor sy skepping en klein diertjies doodmaak wat ons irriteer; hoe ons die mees onherwinbare produkte op 'n streep sou produseer en weggooi sonder om twee keer te dink - hoekom het Hy ons dan op hierdie aarde gesit om te 'heers'?
Die antwoord: God het ons lief

Die song gaan ek inskryf vir 'n liedjieskryf kompetisie.  En daarna?  Ek's nie seker nie.  Ek het diep gesprekke met John en Henry gehad (mooi mense; goeie mense; musikante) oor die musiek industrie.  Hoe "crooked" die "system" is en hoe moeilik dit is om 'n bestaan te maak as musikant.  Dit blyk dat 'n ou moerbaie geld en "contacts" moet hê, maar harde werk en talent het nie veel met die storie uit te waai nie.  Tensy ek die lotto wen, gaan ek nog 'n rukkie vat om die "baie geld" te bekom.  Maar dalk kan ek die kontakte opbou deur liedjies te skryf vir ander ouens.


Intussen, bid, droom en skryf ek.  Waar ek kort kom met die nodige geld en kontakte, sal ek probeer opmaak met harde werk en talent.  En as jy wil saam bid en droom... wie's ek om jou te keer?  :)

Dankie vir almal se liefde en ondersteuning en motivering.  Ek is 'n ryker mens deur die mense wat God my mee omring.

En natuurlik vir God se liefde, want daarsonder... woorde kan dit nie beskryf nie.




Besoek gerus my Facebook Page en luister na die song.  Die lirieke is ook daar beskikbaar.  www.facebook.com/franciscacarstens

Monday, June 13, 2011

'n Emmer water en 'n stukkende siel

Die gesegde "charity begins at home" het nog nooit lekker by my kom sit nie.  Ek voel altyd half ongemaklik as ek hoor iemand raak dit kwyt.  Dalk is dit oor ek voel ek het nie charity nodig nie.  Ek doen goed vir myself.  Ek het 'n huis, 'n kar, 'n werk, 'n lekker warm kombers en elke aand eet ek net wat ek wil.  So, as ek hierdie gesegde hardop wil sê met al hierdie 'goeters' wat ek het, dan rattle my sinkplate (soos Ds Hansie sou sê).

Aan die ander kant, as ek dit in 'n meer abstrakte lig wil sien - as ek dit moet apply op 'n sielstoestand, 'n hartding, eerder as 'n geldding, dan kan ek die gesegde begin nader trek en myself toeëien.

Iewers in die hoërskool het 'n ding in my hart kom sit wat ek tot vandag toe nog gereeld oordra as die situasie hom daartoe leen:  As ek nie eerste na myself kyk nie, is daar later niks oor om vir 'n ander te gee nie.  Ek het al gehoor van 'goeie' mense wat hulle alies sien - wat uitbrand en omkap oor daar niks meer oor is om te gee nie.  Dis net half logies - as jy 'n emmer water het, en jy hou aan om koppies water uit te skep en weg te gee, maar jy het nie 'n kraan waar jy die emmer kan voltap nie, sal jy op 'n stadium die bodem tref en dan het jy, en al die mense wat op jou water staatgemaak het, 'n moerse probleem.

So ek probeer om eerste na myself te kyk, seker te maak dat my siel versorg is en op 'n goeie plek is, voor ek 'n ander ou probeer help.

Op die oomblik sit ek met 'n effense krisis egter.  My emmer is leeg, en ek kry nie die kraan oop nie.

En die ergste nog is, dat ek nie my emmer leeggetap het in ander se bekers nie.  Ek het nie al my tyd en energie en kragte gewy daaraan om in iemand anders se lewe iets te beteken nie.  Ek ook nie self uit die emmer gedrink nie, myself opgebou en iets met die water gemaak nie.  Nee... die sielswater het bloot uitgelek in onkeerbare strome en druppel vir druppel verdamp.

Friday, June 10, 2011

'n Mediese Kondisie en Hoendersop vir die siel

Ek is siek... vrotsiek... snotsiek.  Bronchitis sê my dokter, "Mediese Kondisie" skryf sy op my afboekbriefie.  Punt is, ek is siek.  Op enige ander dag sou ek bly wees om in die bed te lê, onder my vere duvet, op 'n koue Jo'burg winterdag, maar nie so nie.. nie siek nie.  Dan is niks lekker nie.

My mentor/kopdokter het jare terug vir my gesê dat wat met jou lyf gebeur, 'n manifestasie is van wat in jou binneste aan die gang is.  Nou lê ek en wonder watter deel van my siel besmet is met 'n pestelensie wat sal veroorsaak dat my lyf so vieslik rebelleer.

Ek het planne gehad vir die week.  Ek het dinge gehad om af te handel, ander goed wat moes aanvang neem.  Maar niks het gebeur nie.  Ek het nog net gelê en hoes, en sweet, en bibber, en kreun, en siekwees.

Dalk vra my siel net vir 'n bietjie aandag, 'n bietjie hoendersop, 'n bietjie rus, 'n bietjie warmte.  Terwyl ek wonder wat dit is wat my gestel so pootjie, is dit dan wat ek vir myself sal gun: 'n kans om te herstel.  Ek hou myself warm, ek slaap wanneer ek so voel en eet hoendersop, want blykbaar help dit vir enige olikheid.

En terwyl ek slurp, laat gaan ek my gedagtes oor wat moontlik 'n hoendersoppie vir my siel kan wees.