Friday, February 8, 2013

Laat U koninkryk kom

Ek wonder soms of ons die regte verstaan het van die woorde "Laat U koninkryk kom".  Ek wonder of ons vandag nog verstaan wat Jesus destyds bedoel het, toe hy sy dissipels so leer bid het.  Ek wonder soms hoekom God my 'n mens gemaak het.  As ek kyk na hoe ander mense optree en die woorde verstaan, dan kan ek nie help om te wonder of hulle nie dalk dink hulle is nie mense nie.
Of die woorde "Laat U koninkryk kom", nie dalk vir hulle beteken om in die wolke te leef, te vergeet jy's 'n mens en elke kort-kort uit te roep "halleluja! God is groot! Loof die Here!" nie?  Hoe verder ek skryf hoe meer onsensitief / onreligieus moet ek voorkom, maar dit is nie my bedoeling nie.  Ek verstaan dat ons in God se beeld geskape is en dat ons heilig is (ek dink), maar ek verstaan ook dat as God wou gehad het ek moet 'n engel wees wat heeldag op FB sy lof toesing, sou hy my 'n engel gemaak het.  Ek glo as God se bedoeling van die woorde "Laat U koninkryk kom", was dat ek op 'n wolkie ronddans en heilig is, dan sou ek vlerkies op my rug en 'n halo op my kop gehad het... en dalk 'n harp in die hand.

Nee, ek is 'n mens.  'n Mens wat eet en wat slaap en wat dink en speel, werk, stort, loop, dans, sit, lê, staan, opgooi, toilet toe gaan, in my neus grou, swets, liefhet, seerkry, omgee... en die koninkryk moet kom daarin.  God se koninkryk moet kom in my opstaan en in my gaan slaap.  God se koninkryk moet kom in wat ek eet en hoe ek eet en met wie ek my kos deel.  God se koninkryk moet kom in die manier hoe ek my werk benader.  God se koninkryk moet kom in hoe ek my lyf oppas, hoe ek myself reinig.  God se koninkryk moet kom in hoe ek loop en hoe ek lê en hoe ek dans.  En as ek toelaat dat God se koninkryk in elke liewe aspek van my lewe kom sit, verstaan ek nie dan die woorde beter nie?

Is dit dan nog nodig vir woorde?

As iemand Jesus in my sien sonder dat ek sê "Jesus leef in my", dan... ja, dan het ek God se koninkryk laat kom.

Friday, February 1, 2013

Trots in jou werk... trots in jou alles.

"Het niemand enige trots meer in hulle werk ni!?"  Dis die "vraag" wat aanleiding gegee het tot vandag se stukkie skrywery.

Elke dag sien of hoor ek hoe mense hulle werk afskeep.  Dalk het hulle opgehou om die leertjie te klim.  Dalk is hulle heel gemaklik met waar hulle sit en hoekom hulle daar sit.  Dalk is hulle net doodeenvoudig sleg.  Watookal die rede... dit staan my nou glad nie aan nie.

As jy jou werk aanpak met soveel geesdrif soos jy die naweek aanpak, sal daar nie meer vrugte wees om te pluk nie?  As jy soveel aandag aan die detail in 'n e-pos gee as wat jy aan jou plakboek gee, sal die ontvanger nie makliker jou boodskap verstaan as hy nie hoef te struikel oor slegte taal en spelfoute nie?

Ek sal nou nie so voor op die wa wees om te sê jy sal 'n bevordering of verhoging kry as jy jou werk met 'n bietjie meer trots aanpak nie.  Maar ek sal wel sê dat die kanse minder sal wees dat jou baas jou gaan wil afdank oor jou traak-my-nie-agtige houding.  En ek belowe dat jy kort voor lank makliker uit die bed sal opstaan op 'n Maandagoggend.

En onthou dat jou houding ander affekteer.
'n Antwoord op 'n e-pos wat jy nie verstaan nie, is nie "?????" nie!  My gemoed stink sommer as ek so e-pos terugkry.  Nee man!  Tik 'n sin uit.  Dit gaan jou skaars 'n minuut vat: "Jannie, ek verstaan nie mooi nie.  Kan jy asseblief duidelikheid gee."
As jy 'n e-pos moet aanstuur vir iemand anders om aandag daaraan te gee, moenie net die "forward" en "send" knoppie druk nie.  Tik 'n sin!  "Marie, kyk asseblief na die e-pos hieronder van Kallie af.  Het jy vir hom 'n antwoord?"
Wees stiptelik.
Wees 'n voorbeeld.  Jou laatkommery kan dalk 'n ander ou aansteek om ook laat te kom en voor jy weet is die wêreld negatief.
Wees positief.
Hou jou skinderstories vir jouself.
Hou jou privaatlewe privaat.  Meeste mense gaan werk toe om te werk, nie om na jou stories te luister dag in en dag uit nie.
En sommer so saam met daai ene... gaan staan buite vir persoonlike oproepe, veral as jy met jou kinders of jou man wil stry.  Jou gekrokte huishouding het niks met die mense om jou uit te waai nie.  Dit maak hulle net nuuskierig en lei hulle aandag af van die werk waarop hulle probeer trots wees.
Verstaan waaroor die besigheid gaan waar jy werk.  Daar is niks so frustrerend soos wanneer die ontvangsdame van 'n Boute en Skroewe maatskappy, nie die vaagste benul het wat 'n Moer is nie!

Ek raak nou sommer opstroppelis en niemand het iets aan my gedoen nie.  Wys jou wat 'n kwaai skrywery aan 'n mens se siel kan doen.

Wees trots.  Dis eintlik waarop dit neerkom.  Maar nie net trots in jou werk nie, trots in jou alles.  Kam jou hare met trots, trek jouself aan met trots, was jou gesig met trots, maak jou kos met trots, pak jou verhoudings aan met trots, sing, dans en speel met trots...

Maak die lewe vir jouself (en vir ander) meer aangenaam deur doodeenvoudig trots te wees in alles wat jy aanpak.