Wednesday, May 16, 2012

My ma se Boontjiesop


Ek bel mos my ma die ander dag en vra vir haar om daai lekker boontjiesopresep van haar met my te deel.  Ek onthou as kind, wanneer ek by die huis sou instap en ek ruik my ma se boontjiesop, dan het ek sommer so lekker warm gevoel in my binneste gekry.  Ek het nodig gehad om weer daai boontjiesop te ruik, om weer so veilig te voel soos in my ma se huis, om te weet dat dit oukei is om groot te word.

En wat sê sy vir my?  "Jy het mos 'n Kook en Geniet.  Dis dáái boontjiesop wat ek altyd gemaak het."  Nou toe nou!  Soos ek ouer word, kom ek al hoe meer agter dat 'n klomp van my ma se geheimpies lê in watter resep sy uit watter boek ruk!
Op 'n manier is dit darem 'n riem onder die hart, want ek kan instruksies volg en as dit al is wat ek nodig het om te doen om weer my ma se boontjiesop te proe, dan sal ek dit doen.

So, Sondag skraap ek toe nou maar moed bymekaar (en die Kook en Geniet) en begin te kook.  Ek het eers gedog die resep is te maklik om waar te wees.  Gooi by, kook, gooi by, kook, gooi by, kook... eet!  Maar dis wraggies so eenvoudig.  Behalwe vir die deel met die sif en die houtlepel, maar ek vermoed dis geskryf vir die tannies van 1960, so nie van toepassing op my nie.  Ek moes dit wel eers probeer voor ek tot die besluit gekom het.

En op 'n stadium so tussen die kokery deur, gaan ek uit en kom terug binnetoe... die reuk... dit was so bekend... en vir 'n oomblik het ek my oë toegemaak en my verbeel ek's weer 'n kind in my ouerhuis.  Daai warm gevoel, daai veilig voel, daai lekker voel... dis darem maar 'n ding wat 'n mens kan mis!

Die boontjiesop het bietjie gehelp vir die verlange en ek vermoed die boontjiesop gaan nog 'n paar keer die lig sien hierdie winter.

***

Maar nou moet ek net my ma (Kook en Geniet) se boontjiesop met julle deel!  Dit voel ongeskik om alleen te sit en eet.  Ek kan nou nie 'n moviese pot maak en almal oornooi nie, maar julle kan dit by die huis maak en my laat weet wat julle dink.

Week 1 koppie droë bone (rooi bone) oornag in koue water
Gooi bone saam met 2 liter water, 500g skenkelbeen (vark is die yummieste), 30g Varkspek (of 'n repie maagvet - moenie te veel worry oor die metery nie... gooi net in) in 'n pot en bring stadig tot kookpunt.
Gooi bietjie sout en peper by en prut vir 1 uur lank.
Kap 'n ui fyn en gooi by.  Los weer alleen vir 1 uur.
Haal die vleisies uit en "zirts" jou sop met daai Braun van jou tot romerig.  As jy nie 'n Braun (of een of ander ander "blender") het nie, moet jy sukkel met 'n sif - don't go there!  Daar's 'n rede hoekom ons ma's en oumas ure voor die potte gestaan en sop maak het... en daarna vir ure lank die kombuis moes skoonmaak.  Gaan koop 'n Braun.
Meng 1 eetlepel koekmeel en 1 koppie melk saam en roer by die gedoente.  Gooi die vleisies terug en bring weer tot kookpunt.
As jy tyd het vir "garneer", gooi 'n paar croutons op, maar ek's gewoonlik so honger teen die tyd, jy moet my keer of ek vreet uit die pot uit!
Geniet hom!