Friday, June 10, 2011

'n Mediese Kondisie en Hoendersop vir die siel

Ek is siek... vrotsiek... snotsiek.  Bronchitis sê my dokter, "Mediese Kondisie" skryf sy op my afboekbriefie.  Punt is, ek is siek.  Op enige ander dag sou ek bly wees om in die bed te lê, onder my vere duvet, op 'n koue Jo'burg winterdag, maar nie so nie.. nie siek nie.  Dan is niks lekker nie.

My mentor/kopdokter het jare terug vir my gesê dat wat met jou lyf gebeur, 'n manifestasie is van wat in jou binneste aan die gang is.  Nou lê ek en wonder watter deel van my siel besmet is met 'n pestelensie wat sal veroorsaak dat my lyf so vieslik rebelleer.

Ek het planne gehad vir die week.  Ek het dinge gehad om af te handel, ander goed wat moes aanvang neem.  Maar niks het gebeur nie.  Ek het nog net gelê en hoes, en sweet, en bibber, en kreun, en siekwees.

Dalk vra my siel net vir 'n bietjie aandag, 'n bietjie hoendersop, 'n bietjie rus, 'n bietjie warmte.  Terwyl ek wonder wat dit is wat my gestel so pootjie, is dit dan wat ek vir myself sal gun: 'n kans om te herstel.  Ek hou myself warm, ek slaap wanneer ek so voel en eet hoendersop, want blykbaar help dit vir enige olikheid.

En terwyl ek slurp, laat gaan ek my gedagtes oor wat moontlik 'n hoendersoppie vir my siel kan wees.

1 comment:

  1. Dit het so met my gebeur - ek bly gesond, deur winter of somer, wanneer ek swem in bergwater of my baadjie uittrek onder die aircon. Maar wanneer die eksamens agter die blad is, en ek vat die pad terug ouerhuis toe, dan is 'n verkouerige griep-geid deel van die bagasie wat ek by die huis aflaai. My lyf was moeg. Moeg van 'n kwartaal se rondhardloop tussen koerantberigte uitsnuffel en opdragte ingee en komitee verantwoordelikhede en sosiale verpligtinge. Dit was net my gestel se manier om seker te maak daar word bietjie ek-tyd in die vakansie ingeruim. Want waar in ons beplanning pas ons siel in? Waar in ons dagboek is die tydgleuf vir jou gemoed om aandag te kry...

    ReplyDelete