Wednesday, May 4, 2011

Verlore oomblikke

Almal veilig terug na die paasnaweek?  Liewe krisis, maar die verkeer was erg!

Nou toe nou.  Twee weke het verbygegaan na ek laas geblog het.  Dit was 'n mal 2 weke.  Kort opsomming: Ons het troue gehou saam met vriende, vir hulle gesing en daarna lekker gedans en gekuier tot wie weet watter tyd, toe breek Ellené haar been!  In die paar dae wat volg, het ek haar dokter toe heen en weer gekarwy en hospitaal toe vir die operasie.  Toe is ons met die gebreekte beentjie plaas toe saam met my ma-hulle.  Heerlike rus-naweek gewees.
En hier is ons nou by vandag.

Ek het nou die dag sit en dink oor die blog-storie.  Eintlik moet ek nie 2 weke wag om te blog nie, want dan hoop die stories so op dat ek nie weet waar om te vat en waar om te los nie.  Dan loop ek die gevaar om als op een slag neer te pen.  En g'n niemand lees my blog oor ek oulike boeke skryf nie! ;) So, ek belowe om meer gereeld 'n ou ietsie kwyt te raak, sodat ek nie vir julle boeke hoef te skryf nie.

Vandag se blog is sommer kort en kragtig.


Toe ek klein was en my Oupa Jan nog geleef het, was ons gereeld op die plaas, Susandale, anderkant Ellisras, duskant Botswana, in die hartjie van die Bosveld.  Ons het elke jaar probeer om in die winter te gaan kuier om saam te jag, en ook vir Kersfees daar te wees.  Daar het nie 'n jaar omgegaan dat ons nie plaas toe was nie.

Soos dit nou maar is met 'n vakansie/kuiertjie by familie of vriende, kom daar altyd 'n tyd om te groet.  Dan staan ons almal in 'n ry en groet ons Oupa Jan daar op die grasperk voor die huis.  Dan spring ons een-een in die kombie om die tog terug huis toe aan te pak - nie een van ons baie lus nie, maar die skool begin weer en ons gaan nie op ons eie leer somme maak en lees nie.  So nou en dan het Oupa vir ons 'n geldjie in die hand gestop, sommerso in die groet, en dit soms laat lyk of hy dit vir my ma wil wegsteek.  As ons almal in die kar is, vra my ma weer of ons mooi gekyk het onder die beddens en op die stoep en orals waar ons was, of ons al ons goedjies ingepak het, dan vertrek ons.  Stadig by die hekke uit, waai-waai vir Oupa en staar die plaas agterna as ons die stofpad aandurf.


Dan hoor ek my ma snik.  Dit was elke keer se storie.  Soms sommer nog voor ons by die hek uit is, het my ma al die tissue by die neus.  Dit het my altyd gepuzzle hoekom sy so huil as ons daar wegry.  Wat het my ma so hartseer gemaak?  Ek weet ek het haar al gevra, maar ek kan nie onthou dat sy ooit vir my gesê het nie.  Dalk het sy iets gesê, of dalk het ek maar net op my eie oor die laaste paar jaar begin verstaan vandat ek in Johannesburg is.

Ek verstaan nou dat dit seker vir haar sleg was om so ver van haar pa af te bly.  Dat dit terrible moes wees om hom net 2 keer 'n jaar te sien, en vir so 'n kort rukkie.  Dalk het sy ook gedink aan al die oomblikke wat verlore gaan tussen die kuiers.  En gesien hoe haar pa oud word, en gewonder hoeveel kuiers daar nog oor is.

Maar soos ek gesê het, dink ek nie my ma het ooit in soveel woorde vir my vertel hoekom sy so gehuil het nie.  Ek weet wel dit: voor ek die snelweg tref in Toti, of voor my ma en pa by die hek uitry in Johannesburg, skiet my gemoed vol, en ek gryp vir 'n tissue, en ek dink aan al die oomblikke wat verlore gaan tussen die kuiers.

5 comments:

  1. Baie nice, baie waar. Aan die anderkant moet mens nie die oomblikke wat jy wel beleef vergeet nie en ons neem dit so maklik sommer vir granted!

    ReplyDelete
  2. Ek onthou al die perskes skil en my broer wat die hase bang gemaak het as julle hulle wou vang LOL!

    ReplyDelete
  3. Ek SNIK. Was 15 jaar laas op die plaas en ek dink deel van die rede oor hoekom ek wegskram het juis daarmee te doen. Die tot siens sê. Ek is bevoorreg om my ma om die draai te hê. Wanneer ons hallo of koebaai, is dit sommer so lekker vinnig (maar altyd innig). En die vinnige koppie koffie is die lekkerste lekker. My hart trek met 'n punt plaas toe. My oë het vol trane geskiet toe ek die dam sien (nog voor ek begin lees het). Daai "op 'n ry" koebaai sê was die spesiaalste oomblikke. My oupa se groot growwe hande wat die laaste tyd so sag geword het. Ek het altyd so veilig gevoel. Die beste tyd op die plaas was September. As die eerste reën na die winter kom. Dan hardloop ons deur waterpoele en sit op die stoep en ruik die reën...

    ReplyDelete
  4. Ja ek wou en wil ook altyd langer op die plaas bly, maar wie gaan uiteindelik die brood op my tafel sit. Lekker is ook net 1100 km ver.

    ReplyDelete
  5. Daar was tye toe ons meer as twee keer 'n jaar plaas toe gegaan het.

    Sommer baie keer, die tye toe jy nog so tussen die sitplekke op 'n kussing kon lê en slaap!

    Ek op die bank net ageter ma en pa, en dan Zettie die agterste bank, en dan al die bagasie agterin, sommer byderhand.

    Ai, en dan het ons terug gekom met sakke vol lemoene ne naartjies.

    dan kan ek nog onthou van die meel wat ons uit ouma se kombuis gekry het wat ons gebruik het om on modderkoekies te versier saam met die rose in die tuin!

    Oom Steve en tannie Cecile was vandag by ma, so hierdie en die kuier bring sommer baie herinneringe!

    ReplyDelete