Friday, February 1, 2013

Trots in jou werk... trots in jou alles.

"Het niemand enige trots meer in hulle werk ni!?"  Dis die "vraag" wat aanleiding gegee het tot vandag se stukkie skrywery.

Elke dag sien of hoor ek hoe mense hulle werk afskeep.  Dalk het hulle opgehou om die leertjie te klim.  Dalk is hulle heel gemaklik met waar hulle sit en hoekom hulle daar sit.  Dalk is hulle net doodeenvoudig sleg.  Watookal die rede... dit staan my nou glad nie aan nie.

As jy jou werk aanpak met soveel geesdrif soos jy die naweek aanpak, sal daar nie meer vrugte wees om te pluk nie?  As jy soveel aandag aan die detail in 'n e-pos gee as wat jy aan jou plakboek gee, sal die ontvanger nie makliker jou boodskap verstaan as hy nie hoef te struikel oor slegte taal en spelfoute nie?

Ek sal nou nie so voor op die wa wees om te sê jy sal 'n bevordering of verhoging kry as jy jou werk met 'n bietjie meer trots aanpak nie.  Maar ek sal wel sê dat die kanse minder sal wees dat jou baas jou gaan wil afdank oor jou traak-my-nie-agtige houding.  En ek belowe dat jy kort voor lank makliker uit die bed sal opstaan op 'n Maandagoggend.

En onthou dat jou houding ander affekteer.
'n Antwoord op 'n e-pos wat jy nie verstaan nie, is nie "?????" nie!  My gemoed stink sommer as ek so e-pos terugkry.  Nee man!  Tik 'n sin uit.  Dit gaan jou skaars 'n minuut vat: "Jannie, ek verstaan nie mooi nie.  Kan jy asseblief duidelikheid gee."
As jy 'n e-pos moet aanstuur vir iemand anders om aandag daaraan te gee, moenie net die "forward" en "send" knoppie druk nie.  Tik 'n sin!  "Marie, kyk asseblief na die e-pos hieronder van Kallie af.  Het jy vir hom 'n antwoord?"
Wees stiptelik.
Wees 'n voorbeeld.  Jou laatkommery kan dalk 'n ander ou aansteek om ook laat te kom en voor jy weet is die wêreld negatief.
Wees positief.
Hou jou skinderstories vir jouself.
Hou jou privaatlewe privaat.  Meeste mense gaan werk toe om te werk, nie om na jou stories te luister dag in en dag uit nie.
En sommer so saam met daai ene... gaan staan buite vir persoonlike oproepe, veral as jy met jou kinders of jou man wil stry.  Jou gekrokte huishouding het niks met die mense om jou uit te waai nie.  Dit maak hulle net nuuskierig en lei hulle aandag af van die werk waarop hulle probeer trots wees.
Verstaan waaroor die besigheid gaan waar jy werk.  Daar is niks so frustrerend soos wanneer die ontvangsdame van 'n Boute en Skroewe maatskappy, nie die vaagste benul het wat 'n Moer is nie!

Ek raak nou sommer opstroppelis en niemand het iets aan my gedoen nie.  Wys jou wat 'n kwaai skrywery aan 'n mens se siel kan doen.

Wees trots.  Dis eintlik waarop dit neerkom.  Maar nie net trots in jou werk nie, trots in jou alles.  Kam jou hare met trots, trek jouself aan met trots, was jou gesig met trots, maak jou kos met trots, pak jou verhoudings aan met trots, sing, dans en speel met trots...

Maak die lewe vir jouself (en vir ander) meer aangenaam deur doodeenvoudig trots te wees in alles wat jy aanpak.



5 comments:

  1. So 'n blonde grappie oor die kennis van jou werkplek

    Baas aan Blond: "Weet jy wat ons besigheid se naam is?"
    Blond: "STOOT"
    Baas: "Wat laat jou so dink?!"
    Blond: "Halloooo!!!! ......Dit staan op ons voordeur!"

    ReplyDelete
  2. As jy trots het in jou werk, neem mense jou meer ernstig op en maak jy jouself NODIG in die werkplek! Jou baas waardeer jou ook meer. My tuinier is so mannetjie. Ek vertrou NIEMAND anders in my tuin en huis nie en hy verkies ook weer as gevolg daarvan om steeds by my te werk al het hy 'n permanente werk ook gekry.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Sooo waar, Elzette! Dink nou net hoe lekker sal dit wees as meer mense soos jou tuinier werk en wandel.

      Delete
  3. :-)

    Ek dink altyd dit is baie ongemanierd om sulke e-posse net aan te stuur, maar ongelukkig is daar baie kere wat ke myself skuldig maak daaraan, net omdat ek dinge wil klaar kry so gou moontlik en die volgende probleem aanpak.
    Maar ek moet sê my kliente kry darem 'n heel mooi verduideliking.
    Vergeet partykeer my kollegas is ook my kliente, dankie vir die herinering!

    ReplyDelete