Ek wonder soms of ons die regte verstaan het van die woorde "Laat U koninkryk kom". Ek wonder of ons vandag nog verstaan wat Jesus destyds bedoel het, toe hy sy dissipels so leer bid het. Ek wonder soms hoekom God my 'n mens gemaak het. As ek kyk na hoe ander mense optree en die woorde verstaan, dan kan ek nie help om te wonder of hulle nie dalk dink hulle is nie mense nie.
Of die woorde "Laat U koninkryk kom", nie dalk vir hulle beteken om in die wolke te leef, te vergeet jy's 'n mens en elke kort-kort uit te roep "halleluja! God is groot! Loof die Here!" nie? Hoe verder ek skryf hoe meer onsensitief / onreligieus moet ek voorkom, maar dit is nie my bedoeling nie. Ek verstaan dat ons in God se beeld geskape is en dat ons heilig is (ek dink), maar ek verstaan ook dat as God wou gehad het ek moet 'n engel wees wat heeldag op FB sy lof toesing, sou hy my 'n engel gemaak het. Ek glo as God se bedoeling van die woorde "Laat U koninkryk kom", was dat ek op 'n wolkie ronddans en heilig is, dan sou ek vlerkies op my rug en 'n halo op my kop gehad het... en dalk 'n harp in die hand.
Nee, ek is 'n mens. 'n Mens wat eet en wat slaap en wat dink en speel, werk, stort, loop, dans, sit, lê, staan, opgooi, toilet toe gaan, in my neus grou, swets, liefhet, seerkry, omgee... en die koninkryk moet kom daarin. God se koninkryk moet kom in my opstaan en in my gaan slaap. God se koninkryk moet kom in wat ek eet en hoe ek eet en met wie ek my kos deel. God se koninkryk moet kom in die manier hoe ek my werk benader. God se koninkryk moet kom in hoe ek my lyf oppas, hoe ek myself reinig. God se koninkryk moet kom in hoe ek loop en hoe ek lê en hoe ek dans. En as ek toelaat dat God se koninkryk in elke liewe aspek van my lewe kom sit, verstaan ek nie dan die woorde beter nie?
Is dit dan nog nodig vir woorde?
As iemand Jesus in my sien sonder dat ek sê "Jesus leef in my", dan... ja, dan het ek God se koninkryk laat kom.
No comments:
Post a Comment