Thursday, May 12, 2011

Ons oumas het so gebak

Ek dreig nou al van die naweek af dat ek gaan piesangbrood bak, want die piesangs wat mens by Spar koop, bly net mooi geel vir 3 dae.  Toe hoor ek later by my moedertjie dat dit langer sou geel bly as ek dit nie in die yskas gebêre het nie.  Ek dump maar als in die yskas, want as dit buite staan, muf dit of die miere vreet die goed op.  Maar ek sal onthou vir volgende keer.

Terug by die storie.  Ek het nou uiteindelik daarby uitgekom om die piesangbrood aan te pak gister.  Ek't 'n resep by my liefste moeder gekry en toe ook ene by my super-moeder-sussie.  Dis mos waar mens jou lekkerste resepte kry - by 'n ma - want hulle toets die goed op hulle kinders, en 'n kind sal vinnig vir jou sê as 'n ding nie lekker is nie.  Ek sê altyd "As jy die waarheid wil hoor, vra vir 'n kind".

Op die oog af het die twee resepte vir my dieselfde gelyk (vanselfsprekend, want hulle kom albei van 'n ma af), behalwe dat sussie s'n 'n suurlemoensappie bykry.  Dié lyk toe vir my heel lekker, en ek spring aan die werk gisteraand.

Oooooeeee!  En het ek lekker gespeel!  Ek was wit van die meel, en taai van die piesangs en suiker na die hele petalje.  En was die gebak lekker?  Jy vra nog!  Ek moes wel die reseppie effens aanpas a.g.v. (on)voorsiene omstandighede.  Hier volg my eie piesangbrood reseppie:

Bestanddele:
125 ml margarien (ongeveer)
250 ml suiker (ongeveer)
2 XL eiers
5 ml Vanieljegeursel (ongeveer)
500ml koekmeel (presies)
5 ml bakpoeier
1ml sout
5ml koeksoda (of nie)
250ml piesang, fyngedruk (4-6) (ongeveer)
30ml Vars Suurlemoensap (ongeveer)

Metode:
Sit die margarien in die miekie vir 'n paar sekondes op medium.   Moenie worry oor afmeet nie.  Skat sommer of gebruik wat oor is van die blok in die yskas. Sê vir jouself jy sal dit afmeet voor jy die suiker bygooi.  Haal uit die miekie uit.  Meet die suiker af.  Kom agter jy het te min suiker, maar dis te laat om nou te worry.  Gooi dit by die margarien.  Krap in die kas vir nog suiker.  Maak die suikerpot leeg in die mengbak.  Begin klits.  Onthou nou weer dat jy nie die margarien afgemeet het nie.  Oh, well.

Room die botter en suiker:  Klits eers met 'n handklitser tot die suiker en botter lekker dik aanpak, skraap dan af en haal die masjien uit die kas uit.  Klits ordentlik.  Voeg die geursel by.  Gebruik sommer die doppie om af te meet. As dit 'n klein doppie is, gebruik sommer 2 doppies.   Klits weer ordentlik.

Voeg die eiers een vir een by.  Breek eers die eiers in 'n bordjie voor jy dit by die bottermengsel gooi, want die suiker is klaar... en die margarien ook.  Jy't net een kans.

Klits dat dit klap na elke eier se byvoeging.  Wonder tussenin die byvoegings wat is die verskil tussen 'n groot- en 'n ekstragroot eier.

Sif die meel en klits weer.  Maak seker jy en die kombuis is lekker wit onder die meel.

Gooi die bakpoeier in.  Wonder of dit ook gesif moes gewees het.  Soek koeksoda in 'n huis waar daar nooit gebak word nie.  Bel jou ma en hoor waarvoor 'n mens koeksoda gebruik as jy bak.  Settle dan maar vir 'n dubbeldosis bakpoeier.

Kry die piesangs by die handlanger wat dit vir jou ge-"moesh" het in 'n roomysbak.  Stry bietjie oor hoe groot die piesangs was voor dit ge-"moesh" is en of 12 piesangs nie dalk bietjie te veel is nie.  Raak iets kwyt soos "Gaan dit nie dan te piesangrig wees nie?".  Lag dat jy dubbelvou.  Begin dit afmeet, besluit dis sommer nonsens.  Gooi bietjie uit die roomysbak by die mengsel en die res van wat jy afgemeet het. Wonder vir 'n oomblik hoeveel jy nou eintlik bygegooi het.  Nog 'n skeppie vir liefde.  Stop voor daar 500ml bygegooi word. Sit die res van die gemoeshde piesangs in die yskas vir 'n melkskommel wat jy later gaan maak... of nie.

Kry 'n vars suurlemoen by 'n goeie pêl of pluk een van jou eie boom af.  Druk hom uit binne die mengsel. Probeer die pitte vang voor dit inval, anders pik jy dit net weer uit.

Onthou nou weer dat jy nog nie die 2de lepeltjie bakpoeier bygegooi het nie.  Wanneer jy die 2de lepeltjie bakpoeier bygooi, wonder of die lepeltjie wat jy gebruik presies 5 ml is, maar skud die gedagte vinnig af, want dis nou te laat vir worry.

Giggel in jou mou vir die borrels wat die bakpoeier maak as jy dit op die suurlemoensap gooi. Raak bietjie bekommerd oor hoe dit in jou maag gaan maak.  Skud dit gedagte af, en meng vinnig voor iemand anders dit sien.

As jy nie 'n broodpan het nie, kry al die soorte en groottes muffin panne in die huis bymekaar, spuit dit met "Spray 'n Cook" of "Cook 'n Bake" (of "Cook 'n Spray" soos Ellené sou sê), en gooi die mengsel in die bakkies.

Sit die oond aan op 180 ºC.  Bêre die muffin pannetjies onder 'n afdrooglap tot die oond warm is.

Voor jy dit in die oond sit, onthou jy wou eintlik neute bygesit het.  Druk dan sommer 'n halwe neut in elk van die groter muffins.  Doop dit "Nutty Surprise".  Breek dan ook neute in die mengsel wat oorgebly het vir die tweede baksel.


Bak tot dit effens bruin raak bo-op.  Druk 'n mes in elke liewe muffintjie net om seker te maak dis gaar.  Dop uit op 'n rakkie (of iets) sodat dit kan afkoel.  Proe een.  Mmmm!  Sit die tweede baksel in die oond.  Proe nog een om seker te maak dis nog lekker as dit reeds afgekoel het.  Mmmm!  Voila!  Piesangrigge-Nutty-Surprise-Piesangbrood-Muffins.

Onthou die volgende dag - terwyl jy blog oor jou resep - dat jy skoon vergeet het van die 1ml sout.


Toe my sussie van die petalje hoor op facebook, lewer sy kommentaar: "haha!!!  Ons oumas het so gebak!"  Nou toe nou!  G'n wonder dis so lekker nie.  Partykeer moet 'n mens maar die reseppie net as 'n riglyntjie hou en die gebak met liefde en gevoel aanpak.

Tot volgende keer... Bak met hart!



5 comments:

  1. Dit nou komende van 'n girl wat vir 'n jaar lank geleer is om kos te maak! Skies, daar leer hulle mens mos net bakke vuil maak wat ander moet was, want die geure mag nie meng nie LOL!

    Is dit JOU muffintjies wat so mooi lyk oppie foto?

    Move over Naked Chef, Nigella en Lochner - want my sussie mag maar!

    BAK MET JOU HART - nou weet jy hoekom 'n ma se resepte werk! En die kos so lekker is...

    wanneer is jou volgende eksperiment en skryf rubrieke!!!

    ReplyDelete
  2. Die foto is nie myne nie, maar my muffins lyk presies soos die muffins in die foto.

    Die volgende eksperiment? Mmmm... dalk die naweek.

    Die rubrieke? Ek sal maar eers nog so bietjie oefen.

    Dankie vir die pluimpie ;)

    ReplyDelete
  3. LOL! dit klink partykeer soos my respete, as ek nie dit het nie, gooi ek sommer dat by, en daai gemeet en eksakte metings is ommer vir pampoene....

    ReplyDelete
  4. sit is wondelik, ek sien dit voor my afspeel!
    Bel jou ma, jip hulle is altyd daarom the help.
    Kinders "As jy die waarheid wil hoor, vra vir 'n kind" dit is baie waar. jy kan die selfde vraag vrae maar die storie is anders.

    Sal jy vir my ook bak, ek sil net by wees om dit te beleef.

    ReplyDelete
  5. :-) hierdie reseppie klink weer so aan die ongeveerde bestandele wat ek partykeer bygooi omdat daar nie van als in die huis is nie, en dan moet jy nie weer vra vir daai muffintjies of koekies nie, want ek kan nie weer raai wat ek ingevoeg en wat ek uigelos het as gevolg van daai onvoorsiende bestandele

    ReplyDelete