Vandag deel ek een van die duisende prekies wat ek so nou en dan vir myself sommer kliphard preek in my kar oppad huis toe.
Ek het al hoeveel keer gehoor dat iemand na God soek - by my vriende, in die kerk, in selgroepe... you name it. Mense skryf songs daaroor, gedigte, preke, bybelstudies. Almal met wie ek al gepraat het, het of self gesoek na God of het al gehoor van iemand wat soek na God.
Wat beteken dit om na God te soek? Kruip Hy vir ons weg? Speel my God met my hide-and-seek? En as jy sê jy soek na God, waar soek jy? Waar begin 'n mens soek na God?
Elke keer as ek die woorde "soek na" en "God" in die dieselfde sin hoor, dan giggel ek in my binneste. Want ek het nou al my mind opgemaak oor hierdie "soeke na God", en ek gaan my bes probeer om dit in die blog te verduidelik.
As ek hoor iemand "soek na God", dan gebeur daar iets vreemds in my kop. Een van die random video's wat deel uitmaak van my "storie", begin sommer outomaties in my kop speel.
Picture if you will...
Hier volg die storie van Smartie, die Smartie mannetjie van Smartieland.
Smartie hardloop half verward rond in Smartieland - oor die berge en deur die valleie. Hy swem deur die groot Smartieriver - duik af tot hy die bodem kan voel, en kom uiteindelik op as hy uit asem raak. Dan klim hy weer die hoogste berg, die infamous Smartieberg, tot heel bo, en uiteindelik is hy weer af aan die ander kant. Hy klim in elke smartieboom, en as hy weer afklim, skud hy die boom nog 'n paar keer voor hy aanbeweeg na die volgende een. Elke smartierots word opgelig en rondgeskuif, en as hy 'n oop stukkie veld kry, grou hy 'n gat tot jy nie meer sy smartie-oortjies kan sien uitsteek nie. En as hy na 'n geswoeg uit die gat kom, gaan grou hy die volgende een.
Hy keer behoorlik Smartieland op sy kop. Alles is onderstebo en deurmekaar. Dit lyk of 'n orkaan deur Smartieland gevee het.
Op eindelaas, moedeloos, doodmoeg en half verslaan, stap hy na die laaste boom in Smartieland. Onder die boom sit Smirlin, die slimste wyse gryse smartie in die hele Smartieland. Smirlin hou nou al vir Smartie dop van waar hy die eerste smartieblommetjie uitgeplik en rondgeskud het. En hier staan Smartie nou reg voor hom. Die sweet loop in strome teen hom af. Waar hy 'n bloedrooi smartie was aan die begin van sy tog, is hy nou al 'n vaal pienk soos die sweet hom afgewas het. In sy oë sien Smirlin dieselfde wanhoop wat hy al hoeveel keer teëgekom het in ander jong smartie mannetjies. Hy beduie dat Smartie moet sit en vra vir hom hoekom hy lyk soos hy lyk.
As Smartie sy asem terugkry, begin sy lip skoon bewe en hy prewel wanhopig "Ek... soek.. oom Smirlin". Smirlin knik, want hy verstaan - hy het die storie al 'n 100 keer gehoor - maar hy vra tog vir Smartie wat dit is wat hy soek. Teen die tyd is Smartie behoorlik aan die huil, maar tussen die snikke deur, kry hy tog die woorde uit. "E-e-ek s-soek... 'n s-s-smartie!..."
Ek weet wat jy nou dink. Smartie klink 'n bietjie stupid. Hoekom sal jy 'n smartie soek in Smartieland as die hele plek van smarties gemaak is. Smartie is dan self 'n smartiemannetjie. Hoe kyk hy dan al die smarties mis as hy die hele Smartieland omdolwe?
Belaglik?
Dis hoe ek voel oor die "soeke na God". Absoluut belaglik. God kruip nie weg nie.
Dit laat my nou dink aan die oudste storie in die Bybel. Die ene van Adam en Eva. God het saam met die mens gewandel in die tuin van Eden. Gereeld het Hy deur die tuin geloop en geselsies gehad met Adam. Adam het nooit nodig gehad om God te soek nie, Hy was net altyd daar.
Dan ontmoet Eva die slang, sy vat 'n hap uit die verbode vrug en gee vir Adam ook 'n stukkie. Ons almal ken die storie. Hulle besef toe hulle is kaal, stik klere uit blare aanmekaar en kruip agter die bome weg. As God dan deur die tuin kom wandel, roep hy na Adam. "Adam, waar is jy?"
My verstaan dus oor die soeke na God, na aanleiding van die storie, is dat God na ons soek - nie anders om nie.
Ons kruip weg, meestal oor ons skaam is oor iets wat ons gesê het, of gedoen het, of gedink het, of nie gedoen het nie. Ons kruip weg as ons God nie in die oë kan kyk nie. Maar God is orals - alomteenwoordig, selfs binne my - en Hy wag geduldig vir my om te sê "Hier is ek, Here".
Ek dink Smartie was/is die spreekwoordelike vekleurmannetjie in 'n boks smarties - verlore en deurmekaar.
ReplyDelete