Tuesday, April 12, 2011

Check jy jou emails?

Ek moet vir *Vlooi dankie se vir vandag se topic.  Dis te danke aan haar heel onaangename blaps vandag dat ek vanmiddag sit en bedink het hoe toe ons partykeer is.

Kom ek verduidelik.  Die stomme mens het 'n e-pos geskryf en vir die verkeerde persoon gestuur.  Soos dit is met Murphy se wet, het sy natuurlik iets oor die persoon gesê vir wie sy nou verkeerdelik die e-pos gestuur het.  Ek het kliphard gelag toe ek die storie hoor, maar ek dink sy sal eers baie later hieroor kan lag. Dis nou Vlooi - ek dink nie die persoon vir wie sy die e-pos gestuur het, sal dit amusant vind, hetsy nou of later nie.

Ek is seker Vlooi is nie die enigste een wat so 'n storie kan vertel nie.  Ons almal kan seker dink aan 'n soortgelyke storie wat ons oorgekom het.  'n SMS wat per ongeluk na jou ma toe is, instede van jou lover... imagine dit... nee, wag, moet liewer nie!

Vlooi... jy moet waaragtig nie eksepsie neem vandag nie.  Ek is baie lief vir jou, vriendin.  Jy't net my gedagtegang aan die roer gesit.

Nou-ja, laat ons uitkom by die eintlike storie.  Net soos met die tegnologie (e-pos, sms, facebook, twitter), maak ons blapse met ons doen en praat.  Ons kyk nie voor ons die SEND knoppie druk nie.  Ons lees nie die goed deur en maak seker ons stuur dit vir die regte ou nie. Ons dink nie voor ons praat nie.  Hoeveel keer het jy al 'n e-pos gestuur sonder die attachment.  Ek doen dit gereeld.  Nie net letterlik nie, maar figuurlik ook.  Dan maak die boodskap wat aan die anderkant uitkom net glad nie sin nie - dis 'n halwe begrip.  En as mens nie al die nodige inligting het nie, kan jy mos nou die verkeerde afleidings maak uit dit wat jy wel gekry het.


Natuurlik kan ek nou die anderkant ook speel.  As jy die heeltyd moet check dat jy die regte recipients gecopy het, omdat die inligting tog net nie by die verkeerde persoon moet uitkom nie, dan moet jy dalk eerder weer die inhoud check.  Tel jou woorde.  Sit 'n wag voor jou mond. Hoe baie het ek nie al hierdie woorde gehoor nie.  Maar natuurlik sal ons keer op keer weer in die strik trap.

Ek skinder nie.  Maar ek doen.  Ons almal skinder.  En die wat se hulle skinder nie, skinder oor mense wat skinder.  Ek weet dit, want ek doen dit.  En, o behoede jou hart en siel as jy in die middel van 'n sin betrap word.  Jy kyk die heeltyd oor jou skouer sodat die inligting nie by die verkeerde persoon beland nie.

Ek het ook al hoeveel keer myself vererg vir 'n e-pos wat ek van iemand af ontvang het.  Dan begin ek sommer met 'n swets of twee die e-pos beantwoord.  Nes ek voel ek het genoeg afgekoel, delete ek dit weer en begin oor.  Maar wat maak ek die dag as ek per ongeluk die SEND knoppie druk?  Gelukkig kan ons nog ons emails check voor ons dit stuur.  Die probleem is wanneer jy 'n ding hardop gese het.  Jy kan nie weer delete en oorskryf nie.  Die skade is gedoen.

So, vandag het ek twee lesse WEER geleer:
1. Kyk voor jy stuur. Dink voor jy praat.
2. Moenie dinge kwyt raak wat jy nie vir enigiemand kan vertel nie.
 

Thursday, April 7, 2011

My suurlemoenboom

Ek gaan 'n suurlemoenboom plant.  Ek gaan hom eers in 'n pot plant, sodat ek hom kan rondskuif en kyk waar hy dit die meeste geniet, en dan later as hy wil, sal ek hom in die grond plant.

En as jy nou vra "'n Suurlemoenboom van alle dinge?", dan gaan ek vir jou sê hoekom.  Ek glo 'n ou se tuin moet vol goed wees wat jy kan gebruik.  Wat is die use van 'n tuin wat vol mooi blommetjies staan, en al wat jy met die goed kan doen, is om vir dit te kyk en te sê "Haai, Blommie! Kyk hoe mooi glimlag die goedjies vir my vandag.  Ek gaan vir Koning Rosedoring oornooi vir tee om ook te kom kyk na my mooi blommetjies".  Booooooooring!  Pluk liewer 'n suurlemoen, sny hom in skywe, gooi sout en sluk 'n tequila.

Ek het peppadew pitte ook.  Ek gaan hulle ook plant.  En dan is daar natuurlik die kruie wat ek wil inwerk, en die groente.  Ek wil 'n tuin hê waaruit ek kan kosmaak.  Imagine dit!  Om 'n maaltyd voor te sit met goed wat net uit jou tuin uitkom.

Kom ons raak bietjie diep filosofies...
(*** Jy kan die deel skip as jy wil... lees weer verder by die volgende stel sterretjies ***)

Jy sien, ek voel jou lyf/lewe/siel/bestaan (ag krisis, wat is die woord wat ek soek? kom ons noem dit maar jou bestaan - alles wat jy is, alles wat jou maak), kan verteenwoordig word deur 'n tuin.  Deesdae is daar soveel kits oplossings daar buite beskikbaar, dat dit nie meer nodig is om jou eie groente te plant nie. (dink nou diep!)  Ons het lui geraak met Google en Fruit & Veg.  As jy nie weet nie of het nie, dan vra of koop jy.  Ons spandeer 'n klomp geld en tyd op verrykingskampe en motivational speakers, in die hoop dat hulle die antwoord gaan hê, sodat ons nie self die werk hoef te doen nie.

Die groot probleem wat ek het met antwoorde kry by ander mense, is dat ek nie altyd weet hoe om dit toe te pas in my eie lewe nie, en sit dan later met 'n groter gemors.  Dis soos om 'n suurlemoenboom te kry, en hom te gaan plant op die verkeerde spot in die tuin.  Alhoewel hy nou daar staan, sal hy nie noodwendig oorleef en vrug dra nie.  Jy moet die antwoord eers in 'n pot plant en rondskuif in jou eie tuin, dat jy kan sien waar hy die beste werk.

En aan die ander kant kry jy ouens wat net deur die lewe cruise - gewoonlik baie buff en bietjie lighoofdig (ek hoop my simpel grappies vat darem grond) - wat blommetjies galore in hulle tuine het... lyk baie mooi, maar beteken absoluut boggerol vir hulself en die mensdom.  Dit wil 'n mens ook nou nie hê nie.

Ek het myself nou skoon deurmekaar gebabbel.  Ek hoop ek het darem my punt duidelik genoeg oorgedra.
(*** back to reality ***)

So, ek gaan begin met my suurlemoenboom (letterlik... ons is nou vir eers klaar met die confusing metafore).  En hopelik voor ek my oë uitvee, het ek 'n tuin wat blink van usefullness (dalk is hier tog nog 'n metafoor).  En as ek moeg raak vir my roos- of laventeltee, het ek 'n suulemoenskyfie vir 'n stywe tequila!

Bottoms up!

Wednesday, April 6, 2011

0.7kg ligter!

Daar is 'n goeie rede hoekom ek nie gister geblog het nie.  Ek was besig, en toe was ek moeg.

Jy sien, ek het gistermiddag na werk my Wii Balance Board met Wii Fit Plus gekry... plus nog 2 ander games ook - My Personal Trainer: Cardio Workout & NewU ietsie ietsie (het nou nie die ding se naam voor my nie - hy's in elk geval nog nie oopgemaak nie... was te moeg).  Dalk bietjie over kill met die klomp ekstra games, maar ek voel as 'n mens 'n ding wil doen, dan doen jy hom ordentlik!

Vanaand het ek weer geboks (dis nou die Cardio Workout)... die keer met 'n bietjie meer ywer, en laat ek nou vir jou vertel: daai ouens wat sê die Wii Fit is 'n foefie, kan gaan vlieg.  Ek het behoorlik gesweet, en as jy die ding se program volg, dan laat hy jou skuldig voel as jy wil stop halfpad, so jy hou vol en druk deur.  Met my fiksheids level, het die outjie my gedruk tot kort duskant miltsteek.

Blykbaar is my balans ook 'n bietjie af, ek lê so bietjie op my linkerbeen, maar met die yoga oefeninge (volgens die make-believe instrukteur), behoort dit sommer vinnig vinnig reg te kom.  Ek het 3km op 'n fiets gery (eintlik net in die lug getrap), 'n skaatsplank bemeester (soortvan), 'n snow board by 'n berg afgestuur (glad nie reguit nie), 'n sneeugeveg gehad, ge-hula-hoop, aerobics gedoen dat ek simpel lyk... en dis nie helfte van die goed wat ek aangevang het in die laaste 2 dae nie.  Ek trek wel die gordyne toe as ek my boude begin wikkel, want ek glo daar is niks flattering vir die bure as ek rond-wobbel op my Balance Board nie.

Ek's excited oor die storie, man!  Kan jy glo, tussen gister en vandag, is ek al reeds 0.7kg ligter?!  Volgens die masjientjie, is dit 'n druppel in die emmer, maar ek sê "dis 'n begin".  En ek voel dit aan my lyf.  My arms, my skouers, my boude, my bene, my maag, my rug - al die spiere in my lyf is daai lekker oefenstyf.

Ek hou nou eenmaal nie van hardloop nie (dis in elk geval sonde - daar staan in Spreuke: "Net 'n dwaas hardloop as niks hom jaag nie", en daar is niks wat my jaag nie), en ek is heeltemal te selfbewus om in 'n gym te gaan vetskud voor 'n klomp vreemde mense.  So, die lawwe speletjies voor die tellie werk vir my.

Ek's op 'n mission, en hierdie is my eerste stappie... en wat 'n lekker stappie is dit nie!

Monday, April 4, 2011

Smartie se soektog

Vandag deel ek een van die duisende prekies wat ek so nou en dan vir myself sommer kliphard preek in my kar oppad huis toe.

Ek het al hoeveel keer gehoor dat iemand na God soek - by my vriende, in die kerk, in selgroepe... you name it. Mense skryf songs daaroor, gedigte, preke, bybelstudies.  Almal met wie ek al gepraat het, het of self gesoek na God of het al gehoor van iemand wat soek na God.

Wat beteken dit om na God te soek?  Kruip Hy vir ons weg?  Speel my God met my hide-and-seek?  En as jy sê jy soek na God, waar soek jy?  Waar begin 'n mens soek na God?

Elke keer as ek die woorde "soek na" en "God" in die dieselfde sin hoor, dan giggel ek in my binneste.  Want ek het nou al my mind opgemaak oor hierdie "soeke na God", en ek gaan my bes probeer om dit in die blog te verduidelik.

As ek hoor iemand "soek na God", dan gebeur daar iets vreemds in my kop.  Een van die random video's wat deel uitmaak van my "storie", begin sommer outomaties in my kop speel.

Picture if you will...

Hier volg die storie van Smartie, die Smartie mannetjie van Smartieland.
Smartie hardloop half verward rond in Smartieland - oor die berge en deur die valleie.  Hy swem deur die groot Smartieriver - duik af tot hy die bodem kan voel, en kom uiteindelik op as hy uit asem raak.  Dan klim hy weer die hoogste berg, die infamous Smartieberg, tot heel bo, en uiteindelik is hy weer af aan die ander kant.  Hy klim in elke smartieboom, en as hy weer afklim, skud hy die boom nog 'n paar keer voor hy aanbeweeg na die volgende een.  Elke smartierots word opgelig en rondgeskuif, en as hy 'n oop stukkie veld kry, grou hy 'n gat tot jy nie meer sy smartie-oortjies kan sien uitsteek nie.  En as hy na 'n geswoeg uit die gat kom, gaan grou hy die volgende een.
Hy keer behoorlik Smartieland op sy kop.  Alles is onderstebo en deurmekaar.  Dit lyk of 'n orkaan deur Smartieland gevee het.
Op eindelaas, moedeloos, doodmoeg en half verslaan, stap hy na die laaste boom in Smartieland.  Onder die boom sit Smirlin, die slimste wyse gryse smartie in die hele Smartieland.  Smirlin hou nou al vir Smartie dop van waar hy die eerste smartieblommetjie uitgeplik en rondgeskud het.  En hier staan Smartie nou reg voor hom.  Die sweet loop in strome teen hom af.  Waar hy 'n bloedrooi smartie was aan die begin van sy tog, is hy nou al 'n vaal pienk soos die sweet hom afgewas het.  In sy oë sien Smirlin dieselfde wanhoop wat hy al hoeveel keer teëgekom het in ander jong smartie mannetjies.  Hy beduie dat Smartie moet sit en vra vir hom hoekom hy lyk soos hy lyk.
As Smartie sy asem terugkry, begin sy lip skoon bewe en hy prewel wanhopig "Ek... soek.. oom Smirlin".  Smirlin knik, want hy verstaan - hy het die storie al 'n 100 keer gehoor - maar hy vra tog vir Smartie wat dit is wat hy soek.  Teen die tyd is Smartie behoorlik aan die huil, maar tussen die snikke deur, kry hy tog die woorde uit.  "E-e-ek s-soek... 'n s-s-smartie!..."

Ek weet wat jy nou dink.  Smartie klink 'n bietjie stupid.  Hoekom sal jy 'n smartie soek in Smartieland as die hele plek van smarties gemaak is.  Smartie is dan self 'n smartiemannetjie.  Hoe kyk hy dan al die smarties mis as hy die hele Smartieland omdolwe?

Belaglik?

Dis hoe ek voel oor die "soeke na God".  Absoluut belaglik.  God kruip nie weg nie.

Dit laat my nou dink aan die oudste storie in die Bybel.  Die ene van Adam en Eva.  God het saam met die mens gewandel in die tuin van Eden.  Gereeld het Hy deur die tuin geloop en geselsies gehad met Adam.  Adam het nooit nodig gehad om God te soek nie, Hy was net altyd daar.
Dan ontmoet Eva die slang, sy vat 'n hap uit die verbode vrug en gee vir Adam ook 'n stukkie.  Ons almal ken die storie.  Hulle besef toe hulle is kaal, stik klere uit blare aanmekaar en kruip agter die bome weg.  As God dan deur die tuin kom wandel, roep hy na Adam.  "Adam, waar is jy?"

My verstaan dus oor die soeke na God, na aanleiding van die storie, is dat God na ons soek - nie anders om nie.

Ons kruip weg, meestal oor ons skaam is oor iets wat ons gesê het, of gedoen het, of gedink het, of nie gedoen het nie.  Ons kruip weg as ons God nie in die oë kan kyk nie.  Maar God is orals - alomteenwoordig, selfs binne my - en Hy wag geduldig vir my om te sê "Hier is ek, Here".



Sunday, April 3, 2011

Begin by die begin

Soos belowe in my eerste blog, het ek begin om my studeerkamer uit te sorteer.   Ek's nog nie naby klaar nie, want alhoewel ek nou voor my rekenaar in my studeerkamer sit en blog, staan daar nou 'n klomp bokse in die gang en in El se kamer wat nou moet gesorteer word.  Bokse gelabel "ou klere", "random kombuis crap", "badkamer crap", "bere stuff".  Alles goed wat ons nog nie nodig gehad het nie, maar ook nog nie weggesmyt het nie.  En natuurlik vind 'n mens 'n klomp goed in sulke bokse wat jy van lankal af soek, en eintlik vergeet het jy het dit.

Ek hoor baie keer mense sê dat hoe jou kamer/huis lyk, is 'n refleksie van wat in jou siel aangaan.  Bogstorie?  Nie vandag nie... vandag glo ek daai uitdrukking.  Vandag is dit waar van my studeerkamer en my siel.

Iewers oor die laaste paar jaar, het ek 'n klomp goed diep in my weggebêre in karton bokse.  Ek is nie helemal seker hoekom nie - ek't seker gedog ek hou dit veilig vir eendag.  Eendag het nou aangebreek.  Soos ek my studeerkamer nou stukkie vir stukkie aanmekaarsit, bokse uit pak en rakke regpak, begin daar iets in my siel roer.

Die volgende vraag, na 'n mens so besluit gemaak het om uit te sort, is gewoonlik: "Nou waar begin ek?"  En mense, wat dink hulle is slim, se simpel antwoord is gewoonlik: "By die begin".  Dankie vir niks!  As jy nie weet waar die begin is nie, dan help dit mos nou boggerol.  So, hier is my resep.  Maak 'n spreekwoordelike lysie, sorteer hom dat die belangrikste goed bo lê (die goed wat jy nie wil los vir laaste nie), en merk dan af soos jy vorder - moenie die lysie te volledig maak nie, want anders is dit net depressing om deur te werk.  My studeerkamerlysie:
Maak die kamer leeg
Vee uit
Stof af
Stel die rekenaar op
Sit die stoel aanmekaar
Blog
Maak 'n volgende lysie

;)  Daarsy!

Die lysie om my siel af te stof, is 'n bietjie meer eenvoudig (in 'n mate).  Daar is net 2 goed op my lysie sover:
Maak 'n bucket list
Tackle die ander goed

Wat die ander goed is, hoop ek sal vir my duidelik word soos ek my bucket list aanmekaarsit.  'n Bucket list is mos nou daai lys van goed wat jy wil doen voor jy die emmer skop.  Travel, trou, kinders hê, bungee jump, snow board, 'n formule 1 kar jaag, seks in 'n aantrekhokkie by Meltz... ek dink dis die tipe goed wat mens op die ding sit.
'n Groot probleem wat ek het, is om heeltyd te sit en tob oor alles wat ek al wou bereik het voor ek 30 is, maar dan vergeet ek van al die goed wat ek al reeds kan afmerk.  So, my bucket list gaan hopelik 'n paar merkies teenoor van die items hê sommer aan die begin reeds.  Natuurlik vergeet 'n mens ook om goed aan te pak as dit nie op die lysie is nie.  En as jy jou oë uitvee, het 5 jaar verbygegaan en jy sit nogsteeds waar jy sit, want daar is mos nog baie tyd.

Ek sien hierdie journey van ontbloting en ontnugtering, gaan baie meer exciting wees as wat ek aanvanklik beplan het.

Here's to new beginnings and happy endings, good friends and fine wine and everything else in between that makes the journey worthwhile!

Saturday, April 2, 2011

Dit kon soveel erger gewees het

Elke vrydagaand in ons huis, is hamburger-aand.  En elke verskoning wat ek kan kry om die braai te benut, is 'n goeie verskoning.  So, ons koop nie karton boksie hamburgers by Checkers nie.  Ons koop ons patties by Fruit & Veg.. die chargrill patties.  En dan word die patties ge-chargrill op die braai, want daar is darem maar niks lekkerder as 'n kuiertjie om die vuur nie.  Veral in ons lapa.

Vandat ons hier ingetrek het, het ons nog nooit mense in ons huis onthaal nie.  Hulle stap by die voordeur in, deur die eetkamer en die sitkamer, uit by die skuifdeur in die lapa in.  En daar sit ons en kuier tot die mense weer moet ry.  Die kos en die drank en die glase -  alles word uitgedra.  Die yskas in die lapa is altyd tjok en blok met koeldrank en drankies.  Die enigste ander tyd wat iemand in die huis kom, is as daar gepiepie moet word.  Tot gisteraand...

Ek het die vuur vroeg aan die gang gekry, want daar is niks so sleg as mens eers 10uur op 'n vrydagaand eet nie.  As die mense kom, gaan ek die patties op die vuur sit, dan gaan ons hamburgers (frikkadelbroodjies) bou en lekker kuier in die lapa tot ons omkap van moegheid.  Die vuur het nog so 20 minute gehad om te gaan voor die hamburgers moes op, toe die mense opdaag.  Deur die eetkamer, deur die sitkamer, uit by die skuifdeur lapa toe.  En daar nuttig ons toe ons eerste drankie.  Net toe ek begin dink die conversation kort 'n hupstootjie, sien ek Riaan se oë so groot soos pierings flits in die rigting van die braai, "O, hel!  Het jy 'n brandblusser?!".
Hy was nog in die helfte van sy sin, toe het die blusser.  'n Klomp goed flits deur my gedagtes.  Wanneer laas is die ding gediens?  Werk hy ooit?  Hoe werk hy?  Ek het nie gebly om uit te vind nie.  Terwyl Riaan en Jako met die rooi stuk blik begin karring, het ek en El gehardloop vir die tuinslang.  Vir wat is daar nie 'n kraan aan die agterkant van die huis nie?!  Eers maak ek 'n emmer vol water, maar ek besef vinnig die storie gaan nie werk nie.  Toe ek met die tuinslang uitkom, is almal in die lapa spierwit.  Obviously het hulle die brandblusser aan die werk gekry.

Daar hang 'n verstikkende wit wolk in die lapa.  En ek spuit met die tuinslang als nat wat lyk of dit kan brand.  Nodeloos om te sê, dit was 'n groot gemors toe ek vanoggend weer gaan kyk na die spulletjie.  Binne sekondes het die vuur teen die dak opgeloop (aan die binnekant) tot amper in die nok.  Binne sekondes het ons die vuur geblus gekry.



Maar dit kon soveel erger gewees het.

Vandat ons hier ingetrek het, is Ellené paranoies oor die braai in die lapa.  Haar paranoia het my nou aangesteek (pardon the pun).

Ten minste het die petalje gesorg vir 'n bietjie opwinding vir wat andersins 'n baie droeë, unhappening aandjie kon wees.  Patties in die oond, glasies weer volgemaak, kuier ons toe die res van die aand in die huis.  Ek dink ons gaan vir die volgende ruk 'n paar kuiertjies in die huis hou.  Ek is nog lank nie genees van ons weeklikse intelling van hamburger-aand nie, maar daai chargrill patties is toe nie so bad in die oond gegrill nie.

Ek het min geslaap gisteraand.  Dit kon soveel erger gewees het!



Friday, April 1, 2011

Hulle almal is dieselfde...

Ugh!  My hart sit nou saam met my moed in my skoene oor mense se hartelose onmenslikheid en onwilligheid om hulle minds oop te maak vir enigiets behalwe hul eie opinie.

Ek het heel onskuldig gaan staan en rook nou net.  Daar bo gekom het 2 kollegas mekaar raakgeloop.  Die een (kom ons noem hom Piet) is 'n 50-jarige wit afrikaner man.  Die ander (ons noem haar sommer Karen) is 'n 25-jarige wit afrikaner meisie.  Net vir die rekord, ek is 'n amper 30-jarige wit afrikaner vrou.

Dis die agtergrond.  Nou vir die storie.

Ek het iewers in die middel van die gesprek op hulle afgekom en net die volgende woorde gevang "..liewe hemel, Piet, die fokken goed is almal dieselfde." en Piet antwoord "Ja jong, 'n kaffer was nog nooit 'n mens nie.. sal ook nooit wees nie".   Ek het nie nodig gehad om nog 'n woord verder te luister om te weet dat ek by hierdie gesprek nie wil betrokke raak nie.  So, ek gaan staan toe maar eenkant en rook my rokie in stille verslaenheid.  Terwyl ek teug aan my stokkie, luister ek na die emosie-belaaide gesprek tussen 2 uitgesproke rasiste, en die woede en hartseer en allerhande ander deurmekaar gevoelens wel in my op.  Ek dink aan 'n honderd goed wat ek vir hulle kan sê om hulle stil te maak, maar ek weet niks gaan help nie.  Ek is in elk geval nie gebou vir konflik nie.

Ek hoor hoe hulle praat oor hoe die "goed" (dis nou swart mense) wat steel en moor en verkrag, en hoe 'n mens nooit hoor van 'n wit man wat 'n swart meisie verkrag nie (dis blykbaar Steve Hofmeyer se woorde in 'n '3rd Degree' onderhoud).  En elke 2de verwysing na die "goed" verander in die k-woord net vir ekstra klem... bietjie oemf in die oomblik.

En nou sit ek terug by my tafel, en ek kry skaam.  Skaam vir myself oor ek niks gesê het nie.  Skaam vir 'n 25-jarige meisie wat vasgevang is in haar ouers se onmenslikheid.  Jammer vir haar dat sy hulle kak op haar skouers moet dra, maar ter selftertyd die moer in vir haar oor sy nie vir haar self kan dink nie.  In 'n mate kan ek nog Piet se agressie verstaan.  Hy't grootgeword in 'n ander tyd.  Die system het hom opgefok, en vir hom om nou te begin anders dink, is seker baie gevra.

Ek dink die labelling van ander mense sit bietjie naby aan my lyf.  Dis dalk hoekom my hart so bloei vir die darkies met wie ek te doen kry.  Ek dink in baie gevalle dat die woorde, "hulle is almal dieselfde", hulle minds ook so opgeneuk het dat hulle actually glo hulle sal nooit iewers kom nie.  Dat hulle voel hulle moet nou maar join in die stelery, want dit word van hulle verwag.

Ek weet dit sal nooit gebeur nie, maar sal dit nie awesome wees as die dag aanbreek dat ons almal ons boksies op 'n hoop verbrand nie?  Die boksies waarin ons ander mense plaas.

Swartmense is nie mense nie
Swartmense steel, moor en verkrag
Swartmense is dom
Witmense is rasiste
Gays is promuskuees
'n Gay man is 'n fairy
'n Lesbeen vrou is butch
Studente is dronkgatte
Mense wat in Sandton bly, is hoogmoedig
Mense wat in Boksburg bly, is kommin
Girls met blonde hare is dom
Middeljarige afrikaanse vrouens is naief
Mense wat kerk toe gaan, is skynheilig
Mense wat nie kerk toe gaan nie, is ver van God af
Mense met baie geld ken nie liefde nie

Voeg maar jou eie labels by die lysie.  En gooi dit op 'n hoop om te brand, want labels fok mense op!  Asof die system nie screwed up genoeg is nie, klim ons as individue ook op die band wagon en speel lekker saam.

Party van ons oor ons saampraat en labels plak, ander van ons oor ons stilbly...